Skietbaan Reëls & Standaard Bevele

(BYLAAG 1.2 A)

  1. Die Baanoffisier het die finale gesag op die skietbaan en het die reg om teen onveilige en ongehoorsame deelnemers op te tree.
  2. Opdragte van die Baanoffisier moet onvoorwaardelik en onmiddellik uitgevoer word.
  3. Deelnemers is onderhewig aan die betrokke skietbaan se reëls en moet die Baanregister en die Vrywaringsvorm teken.
  4. Geen persoon onder die invloed van alkohol of narkotiese middels mag die skietbaan betree nie.
  5. Geen alkohol mag tydens die skietoefening op die skietbaan gebruik word nie.
  6. Vuurwapens moet ongelaai op die skietbaanterrein arriveer in ‘n doelgemaakte sak of tas.
  7. Vuurwapens mag net uit ’n sak of tas gehaal word in direkte opdrag van die Baanoffisier op die skietpunt en die lope  moet dan te alle tye in ‘n veilige rigting gerig wees.
  8. Vuurwapens mag nie op die skietpunt hanteer word terwyl enige persoon voor die skietpunt is nie.
  9. Deelnemers wat ‘n handwapen aan hulle liggaam dra moet dit aan die Baanoffisier of -beampte verklaar, onder toesig veilig maak op die skietpunt en weer terugplaas in die holster aan sy liggaam. Die handwapen mag slegs weer gelaai word na die skut die skietbaan verlaat het en op pad uit die skietbaanterrein is.
  10. Veilig verklaarde vuurwapens moet in sakke of tasse wees tydens beweging tussen skietpunte.
  11. Gehoor- en oogbeskerming is verpligtend.
  12. Toeskouers en wagtende deelnemers moet ten minste 10m agter die skietpunt wees, of buite die sigveld van die Baanoffisier. Voorts moet hulle gehoorbeskerming dra en stil wees terwyl geskiet word.

(BYLAAG 1.2B)

Geen skuts of toerusting op die skietpunt alvorens die Baanoffisier die opdrag gee:

  1. “Skuts na die skietpunt. Vuurwapens bly in sakke of tasse tot verdere bevele”.
  2.  “Die baan is gesluit (toe)”.
  3. Die Baanoffisier of -beampte besoek elke skut individueel en beveel: “Haal uit, verklaar en wys veilig”.
  4. Baanoffisier verduidelik skietoefening/inskietoefening en allokeer ‘n teiken aan elke skut op die skietpunt.
  5. “Neem skietposisie in en verstel visiere/teleskope”
  6. “Oog- en oorbeskerming”
  7. “Laai en maak gereed” (laai magasyn/ kamer van enkelskoot vuurwapens en grendel bly oop)
  8. “Is almal gereed?” – skuts wat nie gereed is nie moet aanduiding gee.
  9. “Die aflossing is nog nie gereed nie” – indien so aangedui.
  10. “Almal is gereed – sluit grendel en staan by” – met die snellervinger langs die snellerbeuel
  11. “Blaas fluitjie” of gee bevel “vuur” (tydens inskietoefening mag skut vuurwapens omruil binne tyd van oefening)
  12. Na verloop van voorgeskrewe tyd: Blaas fluitjie of gee bevel “stop”
  13. “Ontlaai, maak veilig” - Na die proses van ontlaai en veilig maak, mag die skut die vuurwapen neersit met die loop in ‘n veilige rigting gerig, maar hy moet by sy geweer bly en wag vir sy inspeksie
  14. In gevalle waar slegs van skietposisie op dieselfde afstand verander word, word bevele vanaf punt 4 herhaal.
  15. Voordat na ‘n volgende skietpunt beweeg word, beweeg Baanoffisier of -beampte na elke skut en beveel: “wys veilig” en daarna “pak weg” – vuurwapen word met rooi veiligheidsvlaggie in posisie of grendel verwyder of oop of toe aksie met die slagpen ontspan in sak of tas gebêre.
  16. Na alle vuurwapens geïnspekteer is verklaar Baanoffisier: “Die baan is veilig, tel doppies op en beweeg na volgende skietpunt”
  17. Op opvolgende skietpunte van dieselfde skietoefening word die bevele vanaf punt 4 herhaal.
  18. Na afloop van skietoefening moet vuurwapens veilig in sakke / tasse geplaas word, voordat tellings geneem of terug na die aanvanklike skietpunt geloop word.

 

Notas:

  1. In geval van noodtoestand – “STAAKVUUR, STAAKVUUR!” of met lang fluitjie blaas
  2. Baanoffisier mag oorblywende tydsintervalle uitroep indien versoek word

We have 350 guests and no members online